Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Gigue van die Rotvanger" deur ANTJIE KROG
"Gigue van die Rotvanger" deur ANTJIE KROG [boodskap #47760] Di, 07 Augustus 2001 14:09
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

GIGUE VAN DIE ROTVANGER
Antjie Krog

jy loop met 'n silwer fluit deur die nag
met jou mond vorm jy vreemde note
met jou vingers maak jy valdeure oor die gaatjies
met jou oë kyk jy ver voor jou uit
na waar die lied vandaan kom
ek het geweet jy sou kom
daarom het ek na jou gesoek
soggens as die son fluit-fluit met die voetpad oor die berge kom
hande in die broeksak
kitaar oor die skouer
daarom het ek na jou gesoek
snags as die poeierige mot haar eiers oor die lug lê
en die stad soos kole onder 'n seeppot bly gloei
soos 'n bruid het ek my klaargemaak vir jou:
my hare gewas in vlokke sjampanje en dou
my liggaam ingevryf met olies en neute en geprikte roosmaryn
ek het woorde na jou vernoem
met klei jou lag probeer namaak
ek het stories opgemaak om jou te vertel as jy kom
want ek het geweet jy sal kom
by jou is ek sonder herkoms of toekoms of kompleks
by jou is ek 'n oomblik, 'n vonk
by jou is ek onbewus of ek hartseer is oor jou
en of ek hartseer is oor myself
en of ek al ooit in my lewe hartseer was
daarom het ek vir jou gewag
want ek het geweet jy sal kom
maar ek het nie geweet dat jy sou kom terwyl dit donkermaan is nie
ek het ook nie geweet van die fluit nie
ek het net die note gehoor
en onbewus van dagbreek of skemer
het ek opgestaan om jou lied vir altyd te volg.
Vorige onderwerp: " Reënerige oggend in Pennington " deur CHARL DURAND
Volgende onderwerp: Re: "=?iso-8859-1?Q?Re=EBnerige?= oggend in Pennington" deur CHARL DURAND
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 09:04:24 MGT 2024